Johann Heinrich Gustav Schnell

16 Julie 1872 4 Maart 1959

 

Erna skryf:

Ek het my oupa nie goed geken nie. Hy het by ons aan huis gewoon totdat ek saam met my ouers in die VSA gaan bly het. Ek was toe 18 maande oud. Toe ons terugkom, het Opa Vati by my Oom Willie en Tannie Nancy in Krugersdorp gewoon. Ek was so vyf-ses jaar oud, en ons het redelik dikwils gekuier, dink ek. Ek onthou dat my oupa baie oud was, met n lang, wit baard. Hy was maer, want sy klere het los gehang. Hy het n verweel broek gedra, en in die sak was daar altyd n papierkardoesie met sjokolade-peanuts, wat lekker na pyptabak geruik het, nes hy. Ons gesin was in Swede toe hy oorlede is.

 

My pa, Jan Harm Schutte, het aan n familie-stamboom gewerk voor hy in 1962 oorlede is. Hier is wat hy oor Opa Vati geskryf het:

 

Johann Schnell is in Duitsland gebore: in n dorpie Gistenbeck in die provinsie Hannover. Sy pa en oupa, Joachim Christoph en Heinrich Christoph Schnell, was landbouers, en daar woon nog steeds familie op die Hof (plaashoewe) in Duitsland. Sy oupa Schrder (aan moederskant) was n hoefsmid. Sy ma, Dorothea Schrder, was n begaafde homeopaat.

 

Johann het hom as sendeling bekwaam, en het in 1899 in Natal aangekom. Hy het vir n kort tydjie saam met n ander sendeling naby Port Shepstone gewerk, terwyl hy op sy verloofde, n Duitse barones, gewag het. Na hul huwelik, het hulle per ossewa vertrek na hul eie sendingveld in die Wes-Transvaal: Putfontein, distrik Lichtenburg. Daar het hy 55 jaar lank gewerk. Hy was die leraar van verskeie gemeentes in Wes-Transvaal, en later ook op die Rand, in Sophiatown.

 

Hy en gemeentelede het eiehandig kerke opgerig, in Putfontein en Sophiatown. Hy het n skool in Sophiatown gestig en opgebou, wat naderhand 900 leerlinge bedien het. Hy het n blaasorkes en n groot koor afgerig. Hy was n talenvolle musikant, komponis en digter.

 

Sy opleiding as sendeling het n mediese kursus ingesluit, en soos sy ma was hy n kundige homeopaat. Hy moes dikwils as medikus optree. Hy het gebreekte bene en allelei kwale suksesvol behandel.

 

Hy en sy eerste vrou, die barones, het nooit eie kinders gehad nie, en het drie kinders aangeneem. Toe sy eerste vrou sterf, het hy kort daarna weer getrou met n jong dame wat 25 jaar sy junior was. Hulle twee het agt kinders gehad. Een dogtertjie het net veertien dae gelewe, maar die ander sewe (Martha, Dorothea, Christoph, Johannes, Wlhelm, Rudiger en Oswald) het almal volwasse geword.

 

In 1948 is sy tweede vrou oorlede. Hy het van sy woonplek in Ventersdorp na die Rand verhuis om by sy kinders in te woon. Tot sy aftrede in 1954 was hy nog betrokke by twee gemeentes op die Rand. Hy het ernstig siek geword in 1957, en is na n lang stryd met kanker in 1959 oorlede, in sy 87e jaar.

 

n Jonger kollega van my oupa, Friedrich Dierks, het in die 1950s meeste van sy werk oorgeneem. Friedrich het in 1960 n boek oor Johann (ook Johannes) Schnell se werksaamhede onder die Olifant-sangers, n stam van die Barolong, geskryf. Die boek se naam is TLOU! TLOU! Die Elephantensnger von Botshebelo. Ek is stadig maar seker besig om die boek te vertaal.

 

My oom Ozzie het my iets vertel oor hoe my oupa met my ouma Ernestina getrou het. Johannes Schnell het na Wittenberg-skool gegaan en met die skoolhoof gepraat. Vir sy werk op die sendingveld het hy n vrou nodig gehad. Kon die skoolhoof n vroom, Duitse dame aanbeveel? Ja, inderdaad. Hier by die skool se koshuis is daar so een werksaam. Van n afstand het Johannes vir Erna betrag, en was teverede. Hy het met haar pa gaan onderhandel, en Erna is daarna ingelig oor die besluit dat sy sendelingvrou gaan word.

 

Ozzie het ook aan my vertel dat hy nooit eintlik sy pa geken het nie, maar dat hy n kwaai, kritiese man was, wat nie eintlik n vriendelike woord vir sy seun gehad het nie. Gedurende Ozzie se jong jare was Vati selde tuis, en toe Ozzie skoolgaande ouderdom bereik het, is hy koshuis toe. Hy het daarna slegs twee maal per jaar vir vakansies huistoe gekom. Sy mammie is oorlede toe hy n seuntjie van 12-13 jaar oud was, en daarna was daar nie eers meer n huis vir hom nie. Miskien is sy indrukke van sy pa gekleur deur sy eensame kinderdae? Ek sou graag nog stories oor my oupa wou hoor ek hoop diegene wat hom nog geken het sal vir my oor hom kan vertel. As jy enige stories ken skryf vir my n epos!